1. As die Verkoper het jy die eksklusiewe reg om jou eie onafhanklike prokureur vir die oordrag van jou eiendom te kies. Die Koper of die eiendomsagent (“Eiendomspraktisyn”) mag dit nie namens jou doen nie, aangesien dit jou posisie as Verkoper kan benadeel indien ‘n dispuut tydens die oordragproses sou ontstaan;

2. Die Koper van jou eiendom is verantwoordelik vir die betaling van al die oordragkoste. Jou reg om die oordragprokureur te kies, spruit voort uit die feit dat jy die grootste risiko verbonde aan die verkoop en oordrag van jou eiendom, tydens die oordragsproses gaan dra. Dit is raadsaam om nie toe te gee aan die Koper of die Eiendomspraktisyn se druk/versoek om sy/haar eie prokureur te gebruik nie, veral nie wanneer die versoek gemotiveer word deur redes soos afslag of die Eiendomspraktisyn se lojaliteit aan sekere prokureursfirmas nie, aangesien jy as Verkoper uiteindelik die meeste risiko gaan dra en die gemoedsrus verdien dat jou verkose prokureur in jou beste belang sal optree;

3. Wanneer ‘n Eiendomspraktisyn ‘n “aanbod om te koop” (“Aanbod”) van ‘n potensiële Koper aan jou voorlê vir oorweging, maak seker dat ‘n prokureur van jou keuse die aanbod namens jou hersien om slaggate tydens die oordragsproses te vermy en toe te sien dat jou regte sodoende te alle tye beskerm word. Indien ‘n dispuut dan gedurende die oordragsproses tussen jou en die Koper, of jou en die Eiendomspraktisyn mag ontstaan, het jy die gemoedsrus dat daar in jou beste belang opgetree sal word;

4. Indien die Koper se prokureur toegelaat word om na die oordrag van jou eiendom om te sien en ‘n dispuut sou ontstaan, sal die Koper se prokureur waarskynlik nie jou beste belang op die hart dra nie. Dikwels kan dit daartoe lei dat desperate verkopers onafhanklike regsadvies probeer inwin om dispute wat tydens die oordragsproses ontstaan het, te probeer remedieër, maar ongelukkig nie kan nie want die Raad vir Regspraktyke verbied uitdruklik ‘n derdeparty prokureur se ingryping in ‘n eiendomstransaksie wat reeds in proses is. In wese beteken dit dat sodra jy, as die Verkoper, ’n prokureur genomineer het wat deur ’n ander party gekies is, jy jouself sal moet verbind aan die besluite wat die Koper se prokureur tydens die oordragsproses gaan neem;

5. Ter aansluiting by punt 4 hierbo, indien die Eiendomspraktisyn jou probeer oorreed om sy/haar voorkeurprokureur se dienste te gebruik en ‘n dispuut sou ontstaan tussen jou en die Eiendomspraktisyn, kan gemelde prokureur moontlik die belange van die “verwysende Eiendomspraktisyn” op die hart dra en nie noodwendig jou regte as Verkoper nie. Dit is dus raadsaam om nie ‘n prokureur te gebruik wat deur ‘n Eiendomspraktisyn voorgestel word nie, spesifiek weens hierdie botsing van belange wat kan ontstaan en wat tydens ‘n dispuut, jou regte as die Verkoper van die eiendom, kan benadeel;

6. ‘n Eiendomspraktisyn word uitdruklik verbied om jou te oorreed of te beïnvloed om ‘n bepaalde prokureur van sy/haar keuse te gebruik en met goeie rede. Die gedragskode van toepassing op Eiendomspraktisyns (“PPRA”) verbied hierdie tipe optrede. Slegs indien en wanneer ‘n Verkoper die Eiendomspraktisyn versoek om ‘n aanbeveling te maak, sal die Eiendomspraktisyn wetlik verplig wees om ‘n minimum van twee prokureurs voor te stel aan jou as Verkoper, welke twee prokureurs ook geensins deur die Eiendomspraktisyn finansieël bevoordeel mag word nie;

7.In terme van die “72 uur klousule”, kan ‘n Aanbod wat aanvaar word, maar steeds onderworpe is aan die opskortende voorwaarde dat die Koper verbandgoedkeuring binne ‘n sekere tydperk moet verkry, vervang word deur ‘n tweede en beter aanbod indien die aanvanklike Aanbod daarvoor voorsiening sou maak. Dit beklemtoon net weereens hoe belangrik dit is om jou eie prokureur aan te stel om die Aanbod te hersien en om seker te maak dat die Aanbod die nodige klousules bevat wat sal toelaat dat bemarking voortgesit kan word tot tyd en wyl die Koper verband goedkeuring ontvang het.

(Bogenoemde is bloot ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as regs- of ander professionele advies gebruik of staatgemaak word nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd jou regsadviseur vir spesifieke gedetailleerde advies of kontak ons vir verdere hulp.)

Book your free 30 minute consultation valued at R1 200 over the phone or at our office now

Phone: 028 313 0136

Cell: 082 851 8032

Email: theresa@lbvorster.co.za

Address: Suite 24/25, Upper Floor

Astoria Village, Main Road

Hermanus